| Dit gaan nie oor toekennings, sê wenner van GMT-prys |
|
| MARENET JORDAAN
WANNEER Helena Hettema op die vehoog verskyn, is sy ‘n spieël vir haar gehoor. “Ek wil oopmaak sodat mense hulself in my kan sien, “ sê dié bekroonde kabaretsangeres. Daarom gee sy “vreeslik baie van haarself weg” wanneer sy sing. “As jy op die verhoog is, moet jy bereid wees om kwesbaar te wees.” |
|
| Hettema is Maandag met ‘n
GMT-musiekprys as die beste vroulike solokunstenaar bekroon vir haar
jongste album, Divided Heart. “Ek is al lank genoeg in
die bedryf om te weet dit gaan nie oor toekennings nie,” sê sy.
Haar sololoopbaan het in 1993 begin nadat sy onder meer lid was van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek. Sy was ook die stem agter die temalied van die gewilde TV-reeks Sonkring. Tog is sy dankbaar vir dié erkenning. Volgens haar het sy die album “teen all odds” gemaak – met haar eie geld en as die eerste CD wat haar eie produksiemaatskappy se etiket dra. “Ek het die toekenning definitief nie op my eie gekry nie,” voeg sy vinnig by. Die musiekverwerker David Jooste en die klankoperateur Cesar d’Almeida het haar onder andere gehelp om die unieke wêreldmusiek-klank op Divided Heart vas te vang. Met ses albums het Hettema haar al behoorlik as opnamekunstenaar gevestig, maar sy sê sy is op haar gelukkigste voor ‘n gehoor. “Elke gehoor is anders. Dit is daardie x-faktor – jy kan dit nie vaspen nie. ”Sy span ook haar opleiding as aktrise in om as kabaretsangeres die gehoor op ‘n reis te neem wanneer sy ‘n liedjie sing. “Ek sien dit as ‘n baie teatrale ervaring.” Dié dat sy haar blootstel on die waarheid in elke liedjie te probeer weergee. “’n Mens moet soos ‘n verkleurmannetjie wees soos jy van liedjie tot liedjie beweeg.” Hettema, wat in Engels en Afrikaans musiek skryf, noem haarself ‘n “Suid-Afrikaanse kunstenaar”. Volgens haar is taal irrelevant. “Musiek is bo taal verhewe. Ek het al gesien dat selfs as mense nie die taal verstaan nie en jy ‘n liedjie op ‘n spesifieke manier sing, jy hulle kan ontroer.” Sy is baie opgewonde oor die vooruitsig van ‘n optrede op die Edinburg-musiekfees in 2006. “As ek hier vir oorsese gehore sing, is hulle mal oor my musiek.” Hettema sing onder meer ook in Duits, Vlaams en Frans. Hoewel sy dit in ‘n stadium oorweeg het om te emigreer, het sy glad nie meer sulke planne nie. “Suid-Afrika is my land. Ek dink die musiekbedryf is baie dinamies.” Op die oomblik is sy hard aan die werk vir ‘n nuwe vertoning, Divas Divine, vir die Grahamstad-kunstefees. Hierin bring sy hulde aan onder andere Peggy Lee, Tracey Chapman (sic), Nina Simone, Miriam Makeba en Liza Minnelli. Sy wil ook graag ‘n CD met musiek van Edith Piaf maak. Hettema, wat ‘n Hollandse pa en ‘n Engelse ma het, het grootgeword met die musiek van Piaf, Jacques Brel en ander klassieke klanke in die huis. Dan dink sy ook aan ‘n Divided Heart 2, waarvoor sy musiek van Suid-Afrikaanse liedjie-skrywers wil bymekaar maak. “Ek besef meer en meer musiek in my destiny,” sê Hettema. “Ek is gebore on te sing.” Hettema sing vanaand en Sondag op Stellenbosch, môre in die Strand en op 18 Maart in die Darling-museum. Sien die vermaakgidse vir nog besonderhede. |
|