Hettema laaf die siel

Kabaretsangeres verdien erkenning

CECILE GREYLING

KABARET: Piaf, Brel and Just a Little Me, deur Helena Hettema. In die Barn-teater van Port Elizabeth se Operahuis. Tot more.

TOE Helena Hettema verlede Augustus die eerste keer in tien jaar weer die Baai besoek het met Divided Heart, het sy op haar openingsaand voor 'n gehoor van skaar tien mense opgetree.
   Dit lyk of inligting oor Hettema se hartstog en ongelooflike stem versprei het, want die Barn-teater was eergister op die openingsaand byna vol. Sy het toe ook gehoor sy is die wenner van die plaaslike Showtime-prys, vir die beste uitvoering deur 'n solo-kunstenaar verlede jaar in die Baai.
    Die eerste helfte van Hettema se nuutste konsert is soortgelyk aan haar optrede van verlede jaar. Vir diegene wat haar toe in aksie gesien het en ook haar huidige aanbieding bygewoon het, voel haar verskyning soos om 'n ou vriendin weer raak te loop. Die rou hartstog van Edith Piaf en die hartseer en nostalgie van Jacques Brel is steeds daar, maar die keer meer afgerond en beter voorbereid.
Helena Hettema    Foto: Tertius Wehmeyer

   Ongelukkige was daar weer haakplekke met die vooraf opgeneemde klavierbegeleiding, wat aan die einde van party snitte kortgeknip is eerder as om dit te laat uitdoof.
    Hettema het 'n ongelooflike manier om met liedere soos Brel se "If You Go Away" die gehoor emosiebelaai te laat. Selfs mans het skamerig 'n traan weggepink. Sy sing die tweede vers van die lied in Frans ("Ne Me Quitte pas") en sluit die laaste vers as met Fanus Rautenbach se Afrikaanse weergawe: "So min bly nou oor / Ek huil nie meer nie / Ek praat nie meer nie / Ek wil nie meer nie / Ek is nie meer nie."
   Ná die pouse word op Amerikaanse sangers gefokus: Marianne Faithful, Janis Joplin en Tracy Chapman. Die inhoud is dan ligter, maar die tema bly die liefde en vryheid. Hettema sing welkome fold- en jazz-verwerkings van José Feliciano se "Listen to the Pouring Rain" en Joseph Kosma se "Autumn Leaves".
    Haar eie komposisies raak aan die hartsnare; haar stem en die keuse van liedere wat sy sing, voer 'n mens weg na verre plekke. Hettema lig en verlig die siel.
    'n Mens kan net hoop dat Baaise gehore eendag die geleentheid sal hê om dié formidabele sangeres saam met 'n lewende orkes te kan sien optree en dat sy in die nabye toekoms landswyd die erkening sal kry wat sy verdien.