Innibos Boeke-crawl

Met Elsabé Daneel, Wilken Calitz, Riana Scheepers, Helena Hettema, Waldimar Schultz en Ira Blankenberg
Datum en tyd: Do 27 Junie 14:00, 16:00 en 18:00
Plek: Kaapsehoop
Tydsduur: 240 minute
Gradering: Volwassenes
Prys: R302 (ligte verversings en drinkgoed ingesluit)
Busse vertrek vanaf NG Kerk Westergloed se parkeerterrein, Koraalboomstr. 36.
Produksie ondersteun deur Bohemian Groove Cafè, Silver Mist-gastehuis en en Van Loveren-wyne

Die trefkrag van die digterlike woord gee by vanjaar se immer gewilde Innibos Boeke-crawl die toon aan. Ons toer weer agter woord en musiek aan na Kaapsehoop, die klein bergdorp met sy eiesoortige atmosfeer.

Die eerste stop is by Bohemian Groove Cafè waar aktrise en woordkunstenaar Elsabé Daneel kragte saamsnoer met musikant Wilken Calitz, bekend vir sy filmklankbaanwerk aan onder meer Die wonderwerker en Kristalvlakte, om ou en nuwe gedigte musikaal te laat opklink. Klanke word op die verhoog opgedis, opgeneem, verwerk, ge-‘loop’en dan vermeng met voordrag om die verse tot op die been te ontgin. Só het jy ou bekende gedigte nog nooit gehoor nie!

Die tweede stop is by Long Creek Lodge waar bekroonde en geliefde skrywer Riana Scheepers uit haar werk gaan voorlees. Maak jou gereed vir ’n sensuele luisterervaring soos min. Helena Hettema is die musiekkunstenaar wat bekend is om haar gevoelvolle optredes van geliefde liedere.

Laastens stap ons na die klein kapel. Waldemar Schultz en Ira Blankenberg dra van Afrikaans se mooiste liefdesgedigte voor, naatloos verweef tot ’n verhaal waarin verlange, vreugde, begeerte, hartstog, skeiding, verlies en herinnering betekenis kry. Want, in die woorde van I.D. du Plessis, “die liefde neem ’n duisend vorme aan”.

Die Innibos Boeke-crawl is waar die krag van die woord gevier word!